top of page

Vriendin vir 'n leeftyd

  • Writer: Daleen Frazao
    Daleen Frazao
  • Oct 3, 2023
  • 3 min read

Jy was my eerste maatjie, my bondgenoot, my vermaak, my gehoor, my kritici , my rolmodel maar die belangrikste , jy is my sussie. ‘n Vriendin wat ‘n leeftyd se spore saam my getrap het en soveel herinneringe gemaak het wat jare nog warm in my hart sal bly.


Dit voel soos nou die dag wat ons kaalvoet in die swart gebrande veld vir ons huisies gaan maak het en ure daar gespeel het. Onder die yskoue stroom water gaan staan het as die watertenk oorgeloop het by die perskeboord. Jy wat in die boom gaan klim het as jy ongelukkig was en ek het onder die boom gesit en wag het want ek het nooit jou waagmoed gehad nie . Vandat ek kan onthou het ons ‘n kamer gedeel, my spasie was jou spasie en andersom . Ons  het altyd dieselfde aangetrek maar net die kleur het verskil. Jou rokkie groen en myne blou want dit het by ons ogies gepas volgens mamma. Ons lang hare in twee vlegsels weerskante van ons kop en op spesiale geleenthede is dit in lokke gedraai wat altyd met baie trane gepaard gegaan het. Dit was nogals ‘n seer proses gewees.


Hoe ouer ons geword het het ons meer na mekaar begin lyk en die feit dat ons altyd redelik dieselfde aangetrek het , het gemaak dat ons nie net mense maar ook menige verliefde outjie verward gelaat het. Hulle was nie altyd seker by watter sussie het hul nou gekuier het nie en wie het wat vir hul gesê nie. Ons het mekaar gehelp om van lastige jong vryers ontslae te raak en het menige poets op ‘n paar van hul gebak sodat hul die boodskap kon kry.


Ons lekkerste kuiertyd was op ‘n Sondagaand as almal klaar in die bed was en dit tyd was om te gaan slaap. Dan kon ons ure gesels oor alles en die naweek se gebeure . Dit  het gelei tot onbedaarlike  giggelbuie wat ons menige keer in die moeilikheid laat beland het. Pappa se “Annelie en Daleen , dis slaaptyd” het op dowe ore geval en die lag het aangehou tot Pappa in die kamer ingestorm het net om ons twee te kry waar ons met ‘n groot smile op ons gesigte gemaak het of ons slaap.


Woorde was nie altyd nodig gewees om ‘n boodskap van die ander een te verstaan nie. Soms was dit net ‘n kyk, ‘n frons, ‘n knipoog en ander kere ‘n kuggie wat alles gesê het. Nou nog sal jy vir my sê ‘Sussa jou kyk sê alles”.


Ons sin vir humor laat mense soms wonder maar keer op keer het dit ‘n donker en seer tyd in ons lewe soveel makliker gemaak . In die tyd waar Mamma se dementia op sy ergste was en sy goed kwyt geraak het wat ons soms tot stomheid geslaan het , was dit ons sin vir humor wat dit makliker gemaak het om die seer van haar agteruitgang te kan hanteer. Jou liefde en toewyding aan ons ouers sal my altyd bybly.


Keer op keer het ons kuier geeindig met ons gunsteling liedjies wat ons uit volle bors gesing het en natuurlik ‘n dansie op die tafel , nou nie iets wat ek op my eie doen nie maar saam jou was die inhibisies in die biesies.


Min het ons geweet met al die vreugdes, liefde en hartseer wat ons en ons kinders sou deel, dat ons band jul deur julle grootste hartseer moes dra. Die pyn in jou oë my liefste sus toe ek vir jou die nuus van Andre se afsterwe moes gee, sal ek in my lewe nie vergeet nie maar ek is so dankbaar dat jy die nuus van iemand kon kry wat vir jou ongelooflik lief is.


Die pad vorentoe gaan nie altyd maklik  wees nie weet net dit maak nie saak of ons bymekaar of kilometers van mekaar af is nie,  of ons nou lag en of ons huil, sit of staan dit sal ons altyd aanmekaar bind. Ons sterker maak vir dit wat oor ons pad mag kom.


Vir jou my sus, wat altyd deel van my lewe is, jou onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Ons verskil soos die son en die maan , maar dieselfde bloed vloei in ons are en dieselfde liefde in ons hart wat ons altyd as sussies saambind.

 

ree

 
 
 

Comments


Post: Blog2_Post

©2020 by Die Lewe Begin Op 50.

bottom of page