top of page

Ouderdom, menopouse, of net ’n fase?

  • Writer: Daleen Frazao
    Daleen Frazao
  • Nov 26, 2024
  • 4 min read
ree

Ouderdom is maar ’n sensitiewe sakie vir menige mense maar veral vir ons vroulike

geslag. As ons jonk is wil ons ouer lyk en as ons oud is wil ons jonger lyk so ons maak die

lewe vir onsself nogal bietjie ingewikkeld. Ek weet dat ouderdom deel is van die verloop

van die lewe so ek is meer as okay om vir mense te vertel hoe oud ek is . Daar word gesê

dat jy is so oud soos wat jy voel. Ek wonder daaroor, party dae voel ek 30 net om tien

minute later soos ’n 80-jarige vrou te voel, maar ek voel nie asof ek al 58-jaar

oud is nie. Nou wonder ek net hoe moet ’n 58-jarige vrou voel en hoe moet sy

lyk? Wie het besluit hoe mens moet lyk op ’n sekere ouderdom? As daar een ding is wat

ek wel vir ’n feit weet is dat met die ouderdom daar ’n paar goedjies is wat nogal met ’n

vrou gebeur. Die een met die grootste impak is natuurlik menopouse of oorgangsjare.


Oorgangsjare beskryf eintlik vir my die tyd van jou lewe perfek. Jy gaan oor van ’n redelike

normale liggaam na ’n liggaam wat een helse identiteitskrisis ontwikkel. Jy weet dis daai

ding van ek voel jonk, maar die spieëlbeeld sê iets anders en my lyf vertel ’n ander storie.

Ek wat nou al amper deur my vyftigs is, het gedink dat ek menopouse suksesvol

deurgewerk en oorleef het, maar toe nou nie. Met ’n skok kom ek agter dat menopouse

ten minste drie fases het en as jy dit Google kan menopouse tot vyf fases hê wat jare deel

is van jou. 


Dit is ook nog ’n rede waarom mens nooit Dr Google moet raadpleeg nie - besoek

liewer jou regte dokter. Hul het ’n leeftyd gestudeer om jou die regte mediese raad te gee.

Saam die fases is daar natuurlik hormone of die gebrek daaraan wat chaos in ons liggame

veroorsaak en dit is wanneer jou liggaam sy identiteitskrisis beleef. Of dit te veel hormone

of die gebrek daaraan is, jy het probleme.


So of dit die ouderdom of menopouse is, ek besef dat ek in ’n fase is. Watter fase weet ek

nie, maar dit is ’n feit en my man sal dit beaam. Natuurlik veroorsaak al

die inligting ’n innerlike verwarring by my. Wat ek wel weet is dat ek in ’n fase is in my lewe waar my liggaam nie meer so lekker wil saamwerk nie. Volgens my is ek nog ’n jong 58-jarige vrou en sien kans vir baie in die lewe, maar ja die realiteit het soms ’n vieslike manier om jou uit jou jong bubble te pluk. Jy besefdat wanneer jou skrifgrootte op jou foon so groot is dat daar slegs drie woorde in ’n sin staan en die persoon wat twee rye agter jou sit presies elke woord op jou boodskap kan lees jy nie meer so jonk is nie. Ook as jy altyd eers jou bril moet op sit voor jy enige etiket of prys kan lees en dan praat ek glad nie van as jy die klank sagter moet sit, want jy kan nie sien of dink met die lawaai nie.


Asof dit nie genoeg is nie besluit jou middel dat hy nie meer deel van jou lyf wil wees nie

en verlaat jou oornag. Alles wat opwaarts geneig het neig nou afwaarts. Om in die oggend

op te staan is nie meer ’n kwessie van jy is op en met ’n hup in die stap is jy reg vir die dag

nie, neeeeeeee met versigtige bewegings klim jy uit die bed en hink-en-pink loop jy tot jou lyf besluit hy is gemaklik met ’n normale stappie. Ja, so asof jou liggaam moet opwarm vir

hup in jou stap.


Dan praat ek nie eers van die emosionele fases waardeur ons ook gaan nie. Trane loop

sommer vir enige rede oor jou wange. Mens huil oor alles; die sonsopkoms, jou kinders,

mense se wreedheid, jou man wat onthou om die toiletsitplek terug te sit en vir jou sê jy is

darem nog sexy vir jou ouderdom. Veral daaroor, want jy weet nie of bedoel hy dit of is sy oë

ook besig om agteruit te gaan nie. Ja ons huil regtig oor alles! Die mooi, lelik, goed of sleg.


Gelukkig kom daar ’n fase waar wysheid deel van jou lewe word, nié dat almal dit gebruik

nie, maar dit is daar! Ek weet ouderdom is net 'n getal en dit is ’n pad wat ek moet stap. Dit

is hoe ek die pad aanpak wat gaan maak of ek met styl gaan oud word. Dit is jou

gesindheid, wysheid, en gees wat jou werklik definieer. Omhels jou ouderdom met grasie,

humor, en wysheid en jy sal vind dat die lewe in enige fase 'n pragtige reis is.


Dit maak nou nie saak in watter fase my liggaam is nie, ek is nou in die fase waar

ek wil goed lyk vir my ouderdom en basta met die res!



1 comentario


lorrainevandeventer27
27 nov 2024

In die kol! Niemand het my ooit gewaarsku teen menopause nie. Dis terrible. Ek moes my huzzzband ook inlig wat aangaan alhoewel ek self probeer sin maak van alles wat met my gebeur. Ons vrouens praat te min daaroor.

Me gusta
Post: Blog2_Post

©2020 by Die Lewe Begin Op 50.

bottom of page